Blue Mountains

Die Blue Mountains (2009)

Die Blue Mountains is 'n bergagtige streek in Nieu-Suid-Wallis, Australië. Dit grens aan Sydney se metropolitaanse gebied, met die voethoewels wat sowat 50 km wes van Sydney af begin.[1] Die gebied begin aan die westekant van die Nepeanrivier en strek wes tot so ver as die Coxrivier.[2]

Digte bloekomwoude gee die lug 'n blou gloed en daarom word hierdie berge die "Blue Mountains" genoem.

Die uitsig oor hierdie Australiese berge met sy inheemse natuurlewe, diep canyons, watervalle en ongerepte struikgewasse is asemrowend. Meer as 92 verskillende spesies bloekombome word in Blue Mountains Nasionale Park verteenwoordig.

'n Belangrike rotsformasie kan by Echo Point gesien word. Volgens die tradisie van Aborigines is drie susters (Meehni, Wimlah en Gunnedoo) hier versteen. Die drie uitstaande rotspunte word dus die Three Sisters genoem.

Die Blue Mountains bestaan hoofsaaklik uit 'n sandsteenplato met skeure van tot 760 m diep daardeur. Die hoogste punt van die bergreeks is 1 190 m bo seevlak. 'n Groot deel van die Blue Mountains is tot 'n wêrelderfenisgebied verklaar en sluit sewe nasionale parkgebiede en 'n natuurreservaat in.

Die Blue Mountains-gebied sluit die plaaslike regeringsgebiede Blue Mountains, Hawkesbury, Lithgow en Oberon in.

  1. Gregory's New South Wales State Road Map, Kaart 220, 11de Uitgawe, Gregory's Publishing Company
  2. The Blue Mountains Rediscovered, Chris Cunningham (Kangaroo Press) 1996, bl.33

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search